[News] ANC moet gaan, of munisipaliteite gaan knak

Gerbrandt van Heerden, adjunk-navorsingshoof by die sentrum vir risiko-ontleding (CRA), het Woensdag op ʼn webinaar oor die ineenstorting van munisipaliteite gesê die ANC kom nie die mas op nie. Die sentrum se navorsing wys munisipaliteite wat geldgewys die swakste vaar, is meestal onder ANC-beheer.

“Hulle is nog getroud met ʼn sekere ideologiese raamwerk en ons sien nie dat hulle enigsins binnekort daarvan gaan afstand doen nie.”

Minder as ʼn sesde van plaaslike owerhede landwyd het die afgelope ruk ʼn skoon oudit ontvang, terwyl provinsies soos die Vrystaat en Noordwes boonop ʼn beduidende toename gesien het in óf die getal munisipaliteite wat gekwalifiseerde ouditverslae van die ouditeur-generaal ontvang het, óf selfs nie eens state ingedien het nie.

Volgens die sentrum is die land se plaaslike owerhede in ʼn benarde situasie en terwyl munisipaliteite al hoe nader aan die afgrond van algehele finansiële ineenstorting beweeg, gaan hulle toenemend sukkel om dienste te lewer.

Een van die maniere waaraan die stand van munisipaliteite gemeet word, is toegang tot water en selfs in groot metro’s is dit ʼn groeiende probleem. Miljoene rande is ook toegewys om die emmerstelsel uit te wis, maar teen 2020 het meer mense op die emmerstelsel moes staatmaak as ʼn jaar tevore. Volgens Van Heerden is dit nog ʼn aanduiding van plaaslike owerhede se mislukkings.

Verskeie faktore kry die skuld vir munisipaliteite se vrotsige vertoning. Een daarvan is ʼn gebrek aan kundigheid. Weens ʼn tekort aan vaardige amptenare maak munisipaliteite al hoe meer op konsultante staat en dit beteken owerhede wat reeds sukkel om die boeke te laat klop, moet groot bedrae geld opdok om vir dié eksterne kundiges te betaal.

Korrupsie, asook ʼn gebrek aan behoorlike instandhouding en herstel is nog oorsake van voortgesette munisipale verval. Terwyl dienste op die platteland toenemend inmekaarstort, vlug al hoe meer mense na stedelike gebiede waar druk op bestaande infrastruktuur nog groter word.

Plattelandse uittog

Hierdie uittog uit die platteland beteken ook daar is ʼn groot verlies aan belastingbetalers – of minstens voornemende belastingbetalers – wat dit selfs moeiliker maak vir reeds sukkelende munisipaliteite om ʼn inkomste in te vorder.

Sakeondernemings doen dieselfde en verlaat gebiede waar munisipaliteite misluk. Een voorbeeld hiervan is die maatskappy Clover wat onlangs sy aanleg op Lichtenburg in Noordwes gesluit en na Durban verskuif het. Die maatskappy was een van die grootste werkskeppers in die omgewing maar kon weens munisipale verval nie langer sy deure daar oophou nie.

Van Heerden waarsku dit gaan waarskynlik al hoe meer gebeur en groot werkskeppers wat kan bekostig om dit te doen, gaan hul deure sluit en na ander provinsies of selfs die buiteland verskuif.

“Dit gaan ernstige gevolge vir Suid-Afrikaners in daardie plaaslike munisipaliteite inhou,” sê Van Heerden.

Volgens die sentrum se navorsing word sommige munisipaliteite só swak bestuur dat dit tot die onderbreking van dienste lei. Sakeondernemings en die burgerlike samelewing spring self in om die regering se funksies tot ʼn mate oor te neem, maar in die huidige sosio-ekonomiese omgewing is dit nie volhoubaar nie.

“Die burgery doen wat hy kan, maar ʼn gebrek aan beleggings, ʼn ekonomie wat nie groei nie en stygende inflasie en lewenskoste, beteken daar is al hoe meer druk op verbruikers wat reeds onder groot druk is.”

Die gebrekkige dienste kan ook lei tot verhoogde maatskaplike onbestendigheid. Mense het nie toegang tot water, krag of sanitasiegeriewe nie en werkloosheid skiet die hoogte in omdat sakelui uit swak presterende munisipaliteite onttrek.

“So lank as [munisipaliteite] misluk, kan ons verwag dat die intensiteit van betogings gaan toeneem,” sê Van Heerden.

Inwoners maak ook stem dik by die stembus en die ANC is by die afgelope paar verkiesings gestraf vir sy gebrek aan dienslewering.

Aanbevelings

Maar dienslewering gaan eindelik oor meer as net die voorsiening van krag en water, sê Van Heerden.

“As daar goeie dienslewering is, skep dit ʼn gunstige omgewing vir sake.”

Suid-Afrika het ʼn minimum ekonomiese groeikoers van 5% nodig om minstens net ʼn duik in werkloosheidsyfers te maak, maar tans behaal die land kwalik ʼn groeikoers van 1%.

Beleid soos breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het sake vererger en tot verdere verval by munisipaliteite gelei wat eindelik die armstes van die armes benadeel.

Pleks hiervan moet die onderwysstelsel versterk en die minimumloon verlaag word om arbeid goedkoper te maak. Dit sal sakelui aanspoor om meer mense in diens te neem en kan help om die werkloosheidsyfer te verlaag.

Aanstellings by munisipaliteite moet uitsluitlik op meriete gedoen word, eerder as ras of politieke verbintenis en korrupte munisipale amptenare moet vervolg word.

Die CRA beveel voorts aan dat inwoners en belastingbetalersverenigings meer betrokke raak by die bestuur van dienste en hulself “staatbestand” maak deur byvoorbeeld self krag op te wek en ʼn noodvoorraad water te hê.

Article originally posted here.

© Centre for Risk Analysis
Terms & Conditions | Privacy Policy
CMS Website by Juizi